Die Vrystaatse dorp Parys het met trots die derde kwalifiserende rondte van Lamb Champs 2025 op 6 September by die Afridome aangebied. Met Pick n Pay as hoof borg, Toyota as drywer en Old Mutual as kategorieborg, het die dag boere, vleisliefhebbers en gemeenskappe van regoor, die land saamgebring om gesinsboerdery, gehalte lamsvleis en ware Suid-Afrikaanse erfenis te vier.
Die Parys-vertoning het boere uit vier provinsies gelok, met die Vrystaat wat die grootste groep van 26 inskrywings opgelewer het. Ander verteenwoordiging het gekom van Noordwes, die Noord-Kaap en Gauteng.
’n Wye verskeidenheid rasse het die Afridome gevul en Suid-Afrika se ryk genetiese diversiteit en boerderytradisies ten toon gestel. Die Merino (14 inskrywings) en Dormer (6 inskrywings) was die sterkste verteenwoordig, tesame met Meatmaster, Dohne Merino, Dorper-kruise, Ile de France, Landskaap, Hampshire Down, Karakul, Persie en ander. Hierdie mengsel het beide tradisie en innovasie in lamproduksie beklemtoon.
Wenners van Lamb Champs Parys 2025:
- 1ste plek: Hennie Jonker, Hampshire Down van Kroonstad, Vrystaat – R40 000 kontantprys en ’n pasgemaakte trofee geskep deur die bekende kunstenaar Nic van Rensburg en ’n Weber-braai.
- 2de plek: Ancois Potgieter, Merino van Tweeling, Vrystaat – R20 000 kontantprys.
- 3de plek: Niekie en Christo, Dormer-Suffolk kruis, Steynsrus, Vrystaat – R10 000 kontantprys.
- 4de plek: Barnie Venter, Dormer, Reddersburg, Vrystaat – R1000 Pick n Pay-geskenkbewys.
- 5de plek: Francois Venter, Dormer, Reddersburg, Vrystaat – R1000 Pick n Pay-geskenkbewys.
Die dag was gevul met optredes deur kunstenaars soos Die Boere Orkes, Henru & Schwabie, Dassie, en die Bitterlekker Musas, asook gesinsvriendelike vermaak en die gewilde lewendige lamsveiling.
Een van die hoogtepunte van die dag Lamb Champs-wenner Hennie Jonker het sy 25.4 kg geboksde lam, wat 1ste plek in die TAU-karkaswedstryd gewen het, tydens die veiling vir R30 000 verkoop aan Henning Pretorius van Losberg Lodge naby Fochville.
Saai se Uitvoerende Hoof, Francois Rossouw, het die belangrikheid van die kompetisie in verskillende dorpe beklemtoon:
“Elke streek bring sy eie unieke verhaal na Lamb Champs. Om verskillende provinsies te besoek, gaan nie net daaroor om boere van daardie gebiede die geleentheid te gee om mee te ding nie, maar ook om verbruikers in hul eie gemeenskappe te ontmoet. Dit bou brûe tussen die mense wat ons kos produseer, ons kleinhandelvennoot Pick n Pay en die mense wat dit geniet.”
Pick n Pay se Hoof van Vennootskappe & Betrokkenheid, Tessa Chamberlain, beklemtoon die belangrikheid van gesinsboere en sluit by Saai aan om hulle te ondersteun en te erken deur hulle ’n geleentheid te gee om hul lam in die Pick n Pay-netwerk van winkels te vertoon en te verkoop. Dit verseker dat Suid-Afrikaanse kliënte toegang het tot die gehalte van die Lamb Champs-lam. Deur hierdie vennootskap bied ons vir gesinsboere ’n markkanaal om te verseker dat hulle floreer en voortgaan om ’n belangrike rol in voedsel-sekuriteit in Suid-Afrika te speel.
Die pad na die groot finale:
- 13 Junie 2025: Kimberley – Wenner: Lize Mans van Kakamas, Noord-Kaap (Dorper).
- 26 Julie 2025: Loftus Versfeld, Pretoria – Wenner: JP Nel van Noordwes (Dorper).
- 6 September 2025: Afridome, Parys – Wenners hierbo gelys.
- 24 September 2025: Hoër Landbouskool, Boland, Paarl.
- 17 Oktober 2025: Nampo-terrein, Bothaville – Nasionale finaal en afsluitingsgeleentheid.
Lamb Champs-gemerkte lamsvleis is beskikbaar by geselekteerde Pick n Pay-winkels landwyd, wat die smaak van hierdie unieke kompetisie na Suid-Afrikaanse huishoudings bring.
Vir meer inligting en opdaterings, besoek: www.lambchamps.co.za
Francois Rossouw
Uitvoerende Hoof van Saai