Lamb Champs Pretoria 2025

01/08/2025

Lamb Champs 2025: Pretoria’s Culinary Excellence Excels

Pretoria het rede om trots te wees. Onder aanvoering van hoofborg Pick n Pay, het die vierde uitgawe van hierdie jaarlikse kompetisie weereens gepryk met uitstaande deelname; dit het nie net talle inskrywings gelok nie, maar ook duisende besoekers van regoor die land aangetrek, en die toewyding, gehalte en tradisie van familieboerdery in die kollig geplaas.

Die byeenkoms, aangebied deur die Suid-Afrikaanse Landbou-inisiatief (Saai), het op 26 Julie by Loftus Versfeld plaasgevind en 110 van Suid-Afrika se beste lamsprodusente en hul wêreldklas vleis verwelkom. As die tweede van vier kwalifiserende rondes, het hierdie kompetisie nie net ons landbou-erfenis gevier nie, maar ook die rol van innovasie, volhoubaarheid en waardetoevoeging in die landbousektor beklemtoon.

Baie geluk aan JP Nel van Noordwes – wenner van Lamb Champs Pretoria 2025 met sy Dorper-lam. In die tweede plek was Ancois Potgieter van die Vrystaat met haar uitstekende Merino-lam. Die derde plek is toegeken aan Gawie van Heerden van die Noord-Kaap met sy Konsortium Merino. Coenraad Meyer van die Vrystaat het vierde geëindig met sy Dhone Merino, en Gerhard en Jani Lourens van Gauteng het vyfde geëindig met hul unieke Persiese skaap.

JP se wenlam sal Noordwes verteenwoordig in die nasionale Lamb Champs-finaal op 17 Oktober 2025 tydens Nampo Alfa in Bothaville.

Op hierdie aangename wintersdag het die gemeenskap saamgetrek om ’n ryke landbou-erfenis te vier, terwyl hulle smul aan van die beste plaaslike lamsdisse. Deur die dag is daar opgetree deur vyf kunstenaars, naamlik Vrede, Jan Jan Jan, Ichnus, Ricus en Ricus Nel. Nog ’n hoogtepunt was die opwindende lewendige veiling van 66 boksies lamsvleis, aangebied in vennootskap met Pick n Pay en BKB.

Volgens Saai se uitvoerende hoof, Francois Rossouw, is die stryd om die land se lekkerste en hoogste gehalte lam te produseer werklik uniek: “Lamb Champs gaan nie net oor wie die lekkerste lam het nie – dit gaan oor die skep van ’n platform vir familieboere. Hierdie geleenthede maak nuwe deure oop. Boere ontmoet kliënte, leer by mekaar en wys wat ware gehalte boerdery behels. Of dit nou ’n jong boer is wat pas begin het, of ’n gesin wat al vir geslagte boer – elkeen bring iets na die tafel. Dis wat hierdie kompetisie so besonders maak.”

Die Lamb Champs-streekskompetisies is oop vir alle familieboere in Suid-Afrika wat lamsvleis produseer. Wenner-inskrywings word deur ’n paneel kundige beoordelaars gekies op grond van smaak, tekstuur en aanbieding.

Die 2025 Lamb Champs-kompetisie, met Toyota as dryfveer, bestaan uit vier kwalifiserende geleenthede:

  • 13 Junie 2025: Kimberley – Wenner: Lize Mans van Kakamas, Noord-Kaap (Dorper).
  • 26 Julie 2025: Loftus Versfeld, Pretoria – Wenner: JP Nel van Noordwes (Dorper).
  • 6 September 2025: Parys Afridome, Vrystaat.
  • 24 September 2025: Hoër Landbouskool, Boland, Paarl.

Groot finaal (4 wenners): 17 Oktober 2025, Nampo-terrein, Bothaville. Die nasionale wenner sal tydens die afsluitingsgeleentheid van Lamb Champs 2025 aangekondig word.

Vir meer inligting en om kaartjies te bespreek, besoek www.lambchamps.co.za.

Francois Rossouw, HUB van Saai, spreek sy dankbaarheid uit: “Elke boer wat vandag opgedaag het – gewen of verloor – het ’n rol gespeel in die sukses van hierdie dag. Hierdie is die mense wat Suid-Afrika voed. En aan ons gewaardeerde vennote Pick n Pay, Old Mutual Insure en Toyota: Dankie dat julle agter ware boere staan en help om hul stories verder te neem. Dít is hoe gemeenskap en landbou saamstaan.”

Meer oor Lamb Champs:
YouTube Video
www.lambchamps.co.za
Facebook
YouTube-kanaal
Instagram

Lamb Champs-handelsmerk lamsvleis is beskikbaar by geselekteerde Pick n Pay- winkels landwyd.

Vir meer inligting oor Lamb Champs en opkomende geleenthede besoek www.lambchamps.co.za.

[email protected] | 082 575 5485 | www.saai.org | www.lambchamps.co.za

Lamb Champs Pretoria
Lamb Champs Pretoria 2025