25/02/2025

Lamb Champs 2025 skop af met spit, smaak en spanning in die Noord-Kaap

Lamb Champs 2025 skop af in die Noord-Kaap met uitsonderlike deelname en puik wenners!
Die eerste van vyf amptelike Lamb Champs-kompetisies vir 2025 het vandag afgeskop by die RPO Noord-Kaap se “Wys jou Vleisfees” buite Kimberley. Hierdie historiese afskop van die Lamb Champs-seisoen het boere van regoor die streek saamgebring om deel te neem aan Suid-Afrika se bekende lamsvleiskompetisie.


Lamb Champs is ’n inisiatief van Saai en het ten doel om plaaslike lamsvleisproduksie te vier, uitnemendheid in vleisgehalte te beloon en verbruikers weer in verbinding te bring met die boere agter hul bord kos.
Die beoordelingsproses is volgens streng kriteria uitgevoer deur onafhanklike beoordelaars, met spesifieke fokus op vleisgehalte, karkasverhouding en uitsonderlike smaak. Ná ‘n dag van noukeurige keuring is die wenners met trots aangekondig.

Die eerste plek is toegeken aan Lize Mans van Kakamas in die Noord-Kaap vir haar uitmuntende Dorper-ras. Die tweede plek is verower deur Tom Bissett van Hopetown met sy Meatmaster-ras, terwyl die derde plek toegeken is aan Rudolph en Andre Viljoen van Williston, wat met hul Dorper-ras deelgeneem het.

Benewens erkenning kry die wenner van hierdie kompetisie die geleentheid om later vanjaar haar lam teen die wenners van die ander Lamb Champs 2025-kompetisies te laat meeding in die nasionale eindronde op 18 Oktober 2025 by Nampo Alfa, Bothaville.

Pick n Pay, as hoofborg van Lamb Champs, maak dit moontlik om hierdie inisiatief na nuwe hoogtes te neem en die waardeketting van boer tot bord te verbind. Toyota, as kategorieborg, dra verder by tot die bemagtiging van familieboere regoor Suid-Afrika.

Die volgende Lamb Champs-kompetisie vind op 26 Julie 2025 by Loftus Versfeld in Pretoria plaas, waar 100 van Suid-Afrika se beste boere sal meeding om ’n gesogte plek in die nasionale eindronde te verower.

Saai nooi die publiek uit om hierdie unieke geleenthede by te woon waar familieboerdery, gehalte vleis en gemeenskapsviering hande vat.

Media-navrae:

Francois Rossouw
Hoof Uitvoerende Beampte

[email protected] | 082 575 5485 | www.saai.org | www.lambchamps.co.za