Mediaverklaring Saai
Elke sappige lamtjop het ‘n storie. Dit is ‘n storie van gesinne wat voor sonsopkoms begin werk, van generasies se sorg en toewyding, van trots op ‘n produk wat met eerlikheid en harde werk grootgemaak is. Dit is die storie van familieboere – en dit is hoekom Saai Lamb Champs begin het.
Daar was ‘n tyd toe elke vleisproduk direk van ‘n familieplaas af gekom het. Maar soos die wêreld verander het, het baie bedrywe uit die hande van gesinne geglip. Hoender het nuggets geword. Bees het ‘n patty geword. Vark het wors geword. Maar skaap? Skaap is nog skaap. Dit is steeds iets spesiaal – ‘n vleis wat nie net geëet word nie, maar gevier word.
Ons braai lamsvleis as ons spesiale mense om ons het. Dit is ‘n ete wat méér beteken. Dit is die geur van herinneringe, van saamwees, van familie. Dit is daardie oomblik wanneer ‘n gesin om die vuur vergader, wanneer vriende saam lag terwyl die kole gloei. Skaap is nie net vleis nie – dit is ‘n baken van tradisie.
Vir die eerste keer bring Saai en Lamb Champs die storie agter die skaapboerdery na jou skerm toe met die bekendstelling van Lamb Champs: Die Hart en Siel van Skaapboerdery. Hierdie TV-reeks volg ses skaapboere van regoor Suid-Afrika, wat met trots en passie boer en word uitgesaai op kykNET (DStv-kanaal 144).
Ons neem kykers reguit na die veld, die kraal, die mark en uiteindelik na die kole waar die eindproduk geëet word. Dit is ‘n reis deur generasies, ‘n blik op die harde werk en ‘n viering van die mense agter die perfekte tjop.
Hierdie is nie net ‘n landboureeks nie – dit is ‘n storie van familie, tradisie en erfenis. Dit is ‘n uitnodiging aan verbruikers om te sien waar hul vleis regtig vandaan kom, om weer ‘n persoonlike verbintenis met kos te hê, en om die ware waarde van familieboerdery te verstaan.
Uitsending begin 16 Maart 2025 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Vir ons by Saai is familieboere die hart van ons landbou. Dit is meer as ‘n beroep – dit is ‘n lewenswyse. Die verskil tussen ‘n familieboerdery en ‘n korporatiewe plaas lê nie net in hoe die diere aangehou word nie, maar in die liefde, die opoffering en die erfenis wat daaraan gekoppel is.
Lamb Champs is nie net ‘n kompetisie nie – dit is ‘n kans vir die wêreld om te sien waar die beste lamsvleis regtig vandaan kom. Hier is geen speserye om die geur te verdoesel nie. Geen geheime truuks of marinade nie. Net die rou eerlikheid van skaapvleis, grootgemaak deur families wat omgee.
Wanneer jy ‘n tjop op jou vuur gooi, weet jy waar dit vandaan kom? Het jy al daardie boer ontmoet? Het jy al gehoor van sy nagte waar hy in die kraal moes bly omdat ‘n ram gesukkel het? Weet jy van die dogtertjie wat haar oupa se landerye oorneem, omdat sy glo in wat hy begin het?
Dít is hoekom ons Lamb Champs skep – om ‘n geslag wat gewoond is om kos van ‘n winkelrak af te kry, terug te neem na die hart van boerdery. Ons wil hê mense moet weer verstaan dat
ware kwaliteit nie in ‘n fabriek begin nie, maar in ‘n veld waar ‘n familie elke dag werk om iets besonders te produseer.
Ons is diep dankbaar vir ons vennote, Pick n Pay en Toyota, wat saam met ons help bou aan ‘n wêreld waar familieboere nie net oorleef nie, maar floreer. Pick n Pay het meer gedoen as om net ‘n borg te wees – hulle het rakspasie geskep, hul kopers betrek en ‘n belofte gemaak om die afstand tussen boer en verbruiker kleiner te maak.
Wanneer jy volgende keer in ‘n winkel staan en na ‘n lamtjop kyk, onthou: Dit is meer as net vleis. Dit is ‘n familie se werk. ‘n Geslag se trots. ‘n Boer se droom.
Saai nooi jou uit om deel te word van hierdie storie. Kom ontmoet die mense agter die lamsvleis. Kom vier die boere wat sorg dat jy iets besonders op jou kole kan sit.
Francois Rossouw
Uitvoerende Hoof
Saai
Sel: 082 3322 110
E-pos: [email protected]