Bothaville, 17 Oktober 2025 – Nog ’n onvergeetlike hoofstuk in Suid-Afrika se landbougeskiedenis is vanaand geskryf tydens die Lamb Champs Alfa Dinee, aangebied by Nampo Alfa in Bothaville. Voor ’n gehoor van 450 gaste – insluitend boere, borge en ander eregaste is die titel van Lamb Champs 2025 Nasionale Kampioen toegeken aan Hennie Jonker, wie se uitsonderlike lam in elke beoordelingskategorie uitgestaan het, van op-die-hoef-evaluasie tot by die finale proe.
Met Pick ‘n Pay as hoofborg, word die Lamb Champs-reeks trots aangebied deur die Suider Afrika Agri Inisiatief (Saai) en Provantage in samewerking met Toyota, en ZarBet as sleutelvennote. Pick n Pay se volgehoue steun het die kompetisie tot ongekende hoogtes geneem, en poog om die die gaping tussen familieboere en verbruikers te oorbrug.
Die nasionale finaal het die vier streekskampioene van regoor die land bymekaar gebring:
- Lize Mans – Dorper, Plaas Gerhardsput, Kenhardt, Noord-Kaap (Kimberley-wenner)
- JP Nel – Dorper, Plaas Enkelbos, Vryburg, Noordwes (Pretoria-wenner)
- Hennie Jonker – Hampshire Down, Plaas Kromdraai, Kroonstad, Vrystaat (Parys-wenner)
- Louis Botha – Meatmaster, Hillside Boerdery, Cradock, Oos-Kaap (Boland-wenner)
Sedert Maandag, 13 Oktober, het die deelnemers se lammers die mees omvattende beoordelingsproses in die geskiedenis van die kompetisie deurloop. Slagtings is by Huntersvlei gedoen, Jan de Jong het die op-die-hoef-beoordeling hanteer, SAMIC het die karkasse beoordeel, en die Universiteit van die Vrystaat het die laboratoriumontledings geverifieer. Elke deelnemer het ook twee lammers vir die tradisionele spit by die dinee voorsien, waar drie onafhanklike beoordelaars die geur en sagtheid geëvalueer het – wat 50 punte van die finale telling uitgemaak het.
Die Lamb Champs Nasionale Kampioen stap weg met R50 000 kontant, die prestigeryke brons trofee deur die bekende beeldhouer Nic van Rensburg ter waarde van R80 000, asook verskeie ander pryse wat deur die borge moontlik gemaak is.
Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai is dankbaar vir Pick n Pay en hul leierskap en langtermyn-verbintenis tot familieboere:
“Die vennootskap met Pick ‘n Pay het Lamb Champs van ’n kompetisie in ’n beweging verander. Hulle het hul rakke en hul harte oopgemaak vir ware Suid-Afrikaanse boere, en help verbruikers om direk met die mense agter hul kos te verbind. Hulle glo in gehalte, naspeurbaarheid en volhoubaarheid weerspieël presies waarvoor Lamb Champs staan.”
Rossouw het ook die deelnemers geloof:
“Lamb Champs gaan nie net oor wie die lekkerste lam het nie. Dit gaan daaroor om familieboere ’n egte platform te gee. Hierdie byeenkomste skep geleenthede, bou netwerke, en wys vir Suid-Afrika hoe ware gehalteboerdery lyk. Elke boer hier is ’n kampioen.”
Tessa Chamberlain, hoof van stategiese venoontskappe by Pick ‘n Pay het bygevoeg “Pick ʼn Pay se vennootskap met Lamb Champs bring ons twee handelsmerke in lyn, wat ons in staat stel om hulle te ondersteun deur ‘n platform te skep sodat hulle kliënte direk kan bereik, vertroue te bou deur kwaliteit en naspeurbaarheid! Ons moet die boerdery-erfenis in Suid-Afrika ondersteun en as ‘n kleinhandelaar is ons trots om ons boere te ondersteun deur die Lamb Champs-program wat groei en ‘n belangrike komponent van ons boere se sukses word!”
Vanjaar het Lamb Champs vier nasionale kwalifiserende byeenkomste aangebied – in Kimberley, Pretoria, Parys en Paarl – wat vanaand se groot nasionale finaal by Nampo Alfa voorafgegaan het. Gedurende die 2025-seisoen is altesaam 266 lammers gespit van boere van regoor Suid-Afrika, en meer as 12 000 besoekers het die verskillende Lamb Champs-byeenkomste bygewoon.
Die opwinding strek verder as die skougronde, aangesien Seisoen 2 van die Lamb Champs-televisieryks teen Desember 2025 afgehandel sal wees en in Junie 2026 op kykNET, DStv, uitgesaai sal word. Die reeks bring die stories van Suid-Afrika se beste boere na kykers landwyd.
Gaste by die Alfa Dinee het verteenwoordigers van Pick n Pay, Toyota en ZarBet ingesluit, saam met die vier streekskampioene, bedryfsleiers en lede van die media.
Met die Lamb Champs 2025-seisoen wat nou tot ’n einde kom, is beplanning reeds aan die gang vir volgende jaar se kompetisies, wat hierdie trotse Suid-Afrikaanse viering van boerderyerfenis, innovasie en uitnemendheid verder sal laat groei.
Vir meer inligting, besoekwww.lambchamps.co.za
of volg @LambChampsSA op sosiale media.