Die lekkerste lam kom uit die Vrystaat

Slaap was op meer maniere as een op almal se lippe tydens 'n kompetisie om die lekkerste lam in die land te vind.

Jason Davel van Donkerberg in die Vrystaat se lam uit sy Ile de France-skapkudde is as beste lam aangewys tydens die Lam Champs-kompetisie wat deur die familieboernetwerk Sai op 20 Julie in die Pretoria Botaniese Tuin aangebied is.

Davel het weggestap met die eerste prys van R80 000.

Gawie van Heerden van die Noord-Kaap het met sy Merino-lam tweede plek gewen en in derde plek was Colene van der Merwe van die Noord-Kaap met haar Dormer-skaap.

Dit is die derde jaar wat die kompetisie in Pretoria aangebied word. Die deelnemende boere se uitdagings en suksesse sal binnekort ook in 'n TV-program gesien word.

Meer as 8 000 mense het die vleisfees bygewoon en vroeg was die sappige reuk van die skape op die spits in die lug en monde het natgemaak.

Die beoordelaars was vroeg by die proe en die publiek kon ook vanaf 12:30 vir hulself proe en wegsit terwyl die musiek van kunstenaars van die sanggroep Jan Jan Jan en die gewilde sanger Eloff hulle vermaak het.

Die bekoorlike gasvrou en bekende TV-aanbieder, Minki van der Westhuizen, het die skare vermaak en talle pryse uitgedeel.

Die hoogtepunt van die dag vir baie was die skapkopeetkompetisie toe ongeveer 50 deelnemers elk 'n skaapkop blink moes eet en klaar moes drink 'n 500 ml bier binne minder as 15 minute. Die kompetisie is gewen deur JP du Preez van De Aar.

Bekende bantamgewig UFC-vegter, Cameron Saaiman, is aan die gehoor bekendgestel as aanbieder van die Moer 'n Boer-TV-reeks van die boere wat vanaf 25 Julie op die VIA-kanaal teen gevestigde vegters op die reeks gesien sal word. Twaalf taai boere is vroeër vanjaar gekies en is opgelei in die kuns van MMA-geveg.

Pretoria word verteenwoordig deur Zac Steyn, 'n Angus-beesboer, in die vegkompetisie.

No items found.